Die Evangelie Volgens Markus

13 videos • 5 views • by Homebase TV - Afrikaans Van die begin af maak Markus dit duidelik wie Jesus is: die Messias en die Seun van God (hfst. 1:1). So, die leser weet hoe sake staan. Tog blyk dit uit die ontvouende Evangelie dat vanmelewe se mense nie die aard en sending van Jesus mooi begryp het nie. Net die besetenes het insig getoon! Die demone in daardie persone het Hom dadelik as die Seun van God herken. Wanneer Hy praat, het hulle oombliklik geweet dat dit die Almagtige is wat praat, en hulle het gesidder. Tog beveel Jesus telkens dié wat weet wie Hy is, om dit nie bekend te maak nie. Waarom dié bevel tot geheimhouding? Dit is ’n vraagstuk waaroor Bybelstudente reeds eeue lank gis. Dit het selfs ’n benaming onder vakkundiges: die Messiaanse Geheim. Die vraag is net: waarom sal ’n Bybelboek (en een van die Vier Evangelies om alles te kroon!) die indruk skep dat ons Jesus se ware identiteit behoort te verswyg? Soos ons aanstons sal sien, gaan die Evangelie volgens Markus nie net oor geheimhouding nie. Nee, wonderbaarlike dinge word ook daarin geopenbaar. Hierdie voortgesette afwisseling kan tereg as die “openbaring-en-geheimhoudingsmotief” beskryf word. ’n Mens kom dit deurgaans in Markus teë. Verrassend genoeg kom al hierdie geheimhouding oplaas tot ’n einde, gevolg deur ’n kragtige openbaring van Jesus Christus. Eintlik kan Markus in twee afdelings verdeel word. Vanaf hoofstuk 1 tot na-aan die einde van hoofstuk 8 kom die volgende allerbelangrike vraagstuk onder die loep: wie is Jesus? Die antwoord hierop blyk uit sy leer en die wonderwerke wat Hy verrig het. Keer op keer oorwin Hy die bose, bring hoop aan die onderdruktes, en onthul deur sy leer boeiende waarhede wat die hart en wese van die mens blootlê. Die klinkklare boodskap wat dit by die leser tuisbring, is: Jesus is die Messias!